Stroop ’n wenoes met CLAAS se Lexion 780

Stroop ’n wenoes met CLAAS se Lexion 780

In 1980 het sy pa, Fanus, sy eerste stroper gekoop om elke jaar 500 ha te stroop. Vandag moet pa en seun in ’n normale seisoen 1 000 ha sojabone en 3 000 ha mielies betyds in die silo’s kry. Hulle het ongeveer tien jaar gelede met geenbewerking begin en omdat hulle glad nie hulle gestroopte lande bewei nie, het hulle geen manier om die verlore koppe te benut nie. Daarom moes hulle die stroper vind wat die minste mors.

“Ons het verlede jaar ’n boere- en demonstrasiedag op ons plaas gehou. Al die groot stroperhandelaars in ons omgewing is genooi om teen mekaar mee te ding om vermorsing, brandstofverbruik en ander hoedanighede met mekaar te vergelyk,” sê Stefaans.

VDB in Ermelo se CLAAS Lexion 760 het met die louere weggestap omdat hy net twaalf pitte per vierkante meter teenoor die naaste mededinger se 100 pitte vermors het. “Die verskil bespaar ons R300 per hektaar en dit betaal die stroper binne vyf jaar. Dan praat ons nie eers van die brandstofbesparing nie,” sê Fanus.

Hierdie demonstrasie het Cornelius Boerdery laat besluit om die grootste CLAAS, die 780, te koop en VDB en Kempston Agri het dit verlede maand afgelewer.

Dries de Beer, Kempston Agri se tegniese spesialis, het sorgvuldig saam met Stefan al die funksies van die stroper deurgegaan. “Ek sal die meeste van die tyd die stroper self bestuur, maar ons het ’n operateur wat ek gaan oplei om met die stroper te werk wanneer my aandag elders vereis word,” sê Stefan.

“As ekstras het ons die swaardiensstrooiers agterop bestel om die verspreiding van die plantreste te bestuur. Vir ons skuins lande het ons die 3Dsisteem in die siwwe verkies, wat die deurvoer vergemaklik en ook vermorsing te verminder,” sê Fanus.

Die Lexion 780 het sy eie GPS-stelsel, maar dit pas baie mooi by Cornelius Boerdery se presisieboerderyprogram in. Dit bespaar baie moeite. Ons het geen twyfel dat CLAAS se markaandeel oor die volgende paar jaar aansienlik gaan vergroot nie, wat beteken dat ons oor vyf jaar ’n baie goeie inruilwaarde vir ons stroper sal kry,” sê Fanus.

Michael Howell, Kempston Agri se nasionale verkoopsbestuurder, was self daar tydens die oorhandiging. “Sedert 2013 het ons stropermarkaandeel vanaf 8% tot 23% verlede jaar gegroei en tans is ons nommer twee in Suid-Afrika.”

Kempston Agri hou ’n rugsteunstroper in die Noorde en een in die Kaap om aan ons kliënte gemoedsrus te gee tydens die oestyd. “Ons onderdele-ondersteuning is baie vinnig en onlangs kon ons binne vier dae ’n onderdeel van oorsee af aflewer,” sê Michael.
http://www.proagri.co.za/stroop-n-wenoes-met-claas-se-lexion-780/



back